Tuishulp
Leerhulp in jou taal!
Lees
Gedrag
Spelling
Wiskunde
Speletjies
Leerprobleme
Produkte Idees
Skrif
Motivering
Kreatiwiteit
Verantwoordelikheid
Wenke
Aktiwiteite
Praatvaardighede
Selfbeeld
Vakansie-aktiwiteite
April, 2010
May, 2010
June, 2010
July, 2010
Ou wenke

RSS
Nuwe Blogwerf
7/28/2010 9:30:40 AM
Volg gerus inskrywings van nou af hier: www.tuishulp.co.za/blog

Tuishulp Tuisblad: www.tuishulp.co.za
Angstigheid tydens huiswerksessies
7/28/2010 1:46:05 AM
Angstigheid en spanning kan 'n kind se vermoë om effektief te leer, negatief beinvloed. 
  • Identifisieer die gevolge van stres: is dit bloot 'n gevoel van "vlinders" of kan jou kind nie reguit dink nie.  Daar kan ook fisiologiese gevolge wees, soos maag- of hoofpyn.
  • Help jou kind om die faktore wat spanning veroorsaak, te identifiseer.  Dit sluit eksterne faktore soos egskeiding of verhuising in.
  • As jou kind gespanne raak terwyl hy huiswerk doen, maak sy leerplekkie spesiaal.  Maak seker dat daar niks onnodigs is wat sy aandag kan aftrek nie.  Laat dit vir hom voel soos sy "kantoor".
  • Laat jou kind gereelde ruspouses neem tydens huiswerksessies.
  • Laat jou kind eers rus voordat hy in die middae na skool met sy huiswerk begin.
  • Gesels met jou kind.  Laat sy besef almal stres een of ander tyd en dat selfs Mamma en Pappa moet leer hoe om stres te hanteer.
  • Moet nooit jou kind met ander vergelyk nie.
  • Laat jou kind verstaan dat hy/sy uniek is.  Moenie onnodige druk op jou kind sit om te presteer nie.
  • Gesels met jou kind se onderwyser oor die probleem.
Konsentrasie: Verveeldheid
7/27/2010 3:54:46 AM
Jou kind mag dalk 'n konsentrasie-probleem hê, omdat hy/sy verveeld is, nie belangstel nie of selfs nie van 'n vak hou nie.
  • Verduidelik aan jou kind dat alles in die lewe bestaan uit dele waarvan ons hou en dele waarvan ons nie hou nie.  Ons moet ongelukkig altwee doen!
  • Dit werk soms om dit waarvan jy nie hou nie, eerste te doen eerder as om dit vir laaste te los (van uitstel kom afstel!).
  • Breek die taak waarvan jy nie hou nie, in kleiner deeltjies op.
  • Maak 'n speletjie van dit wat jy nie in belangstel nie.
  • Betrek soveel as moontlik van jou sintuie as jy verveeld is - hoekom skryf jy nie eerder met 'n koki op 'n groot vel papier ipv met 'n pen in jou boek nie?
  • Jy as ouer moet sorg dat jy jou kind aanmoedig - as jy weet hy hou nie Geskiedenis nie, prys hom vir sy goeie punte (al is dit nie so goed soos jy wou hê nie).
  • Jy as ouer moet entoesiasties wees.  Dit help nie jy vertel vir jou kind hoe min jy van Wiskunde gehou het nie!
  • Dit mag dalk help as jou kind saam met 'n maat studeer.
Konsentrasie: Slaperigheid
7/26/2010 2:24:31 AM

Soms in die middae, wanneer jou kind moet huiswerk doen of leer, is hy net "luierig" en slaperig.  Ons almal ken daai gevoel wanneer jy so halfpad-wakker/halfpad-aan-die-slaap is.  Die volgende wenke kan help:

  • Doen so 'n paar minute (5 minute behoort genoeg te wees) se ligte oefening om "wakker" te word.
  • Slaap genoeg in die nag.  Slaap met die lig af en sorg dat daar 'n slaappatroon is (gaan slaap elke aan dieselfde tyd en staan elke oggend dieselfde tyd op - OOK OOR NAWEKE!)
  • Eet reg en gesond.
  • Drink baie water - ook terwyl jy studeer.
  • Doen moeite met jou kind en vind uit of daar iets fout is - laat sy met jou praat of dit in 'n dagboek neerskryf.
  • Beplan jou huiswerksessies met spertye en hoeveelhede werk wat afgehandel moet word.
Wanneer jou kind in die klas sit en gaap, kan hy die volgende doen: 
  • Hou jou asem op so lank as moontlik.
  • Haal diep asem.
  • Vra of jy die vensters mag oopmaak.
  • Maak verskoning en loop 'n draai.

Konsentrasie: Honger en Eetgewoontes
7/23/2010 2:35:55 PM
As jy regtig honger is, kan jy nie konsentreer nie.  Dit is egter net so belangrik om reg te eet - sekere kossoorte en eetgewoontes is bevorderlik vir konsentrasie en akademiese vordering.  Leer jou kind sommer van kleins af dat wat jy eet, 'n invloed het op jou hele menswees.
  • Eet gereeld, maar eet klein hoeveelhede op 'n slag.  Dit sal jou bloedsuikervlakke konstant hou.  Moedig jou kind aan om pouses ietsie te eet - as sy net ontbyt eet en dan eers weer na skool, sal haar bloedsuiker val en kan sy nie in die klas konsentreer nie.
  • Sorg dat daar gesonde kos is tydens die besige kwartaal.  As dit elke middag sport is, is die maklikste oplossing om sommer kitskos en gemorskos te eet.  Sit vir jou kind gesonde kos wat maklik en vinnig eet in.  Idees sluit in: gesonde, voedsame toebroodjies, slaai met boontjies en tortilla-koeverte met tuna- of hoenderslaai.
  • Vermy lekkers en sjokolade.  Eet eerder 'n heilsame hoë proteinstafie as die lus jou oorval.
  • Vermy koffie en Coke.  Daardie klomp kaffiene gaan meer kwaad as goed doen.  Jou kind dink dalk dit hou hom wakker, maar dit meng ook in met sy konsentrasie-vermoë.  As hy gewoond is aan baie koffie laataand, sny geleidelik terug.
  • Water is onontbeerlik!  Jou kind moet altyd 'n botteltjie water by haar hê.  As sy studeer, sit vir haar 'n glas yswater op haar lessenaar.  Leer jou kind van kleins af om elke 2 - 3 uur ten minste 1 liter water te drink.
  • Vitamiene en Minerale het 'n plek, maar die Ware Jakob is beter.  As jou kind 'n slegte eter is of 'n mediese probleem of tekort het, is aanvullings die korttermynoplossing.  Laat jou kind egter eerder hierdie onontbeerlike gesondheid inkry deur reg te eet.  Sluit vrugte, soos appels, piesangs, lemoene, droëvrugte en wortels in jou kind se kosblik in.
  • Jou kind moet elke dag 'n behoorlike ontbyt eet.  Die gesegde lui nie verniet dat mens in die oggend soos 'n koning moet eet en in die aand soos 'n arm man nie!
  • Donker-gekleurde groente bevat die meeste voedingstowwe.  Dit sluit in: spinasie, wortels, brokkoli, beet en patats.
166 items total 1  2  3  4  5  ...  34