Tuishulp
Leerhulp in jou taal!
Lesersvrae

Ander ouers het gevra oor...

Hoe kan ek betrokke wees by tuiswerk?
My kind is ongelukkig by die speelgroepie
My kind druk te hard as sy skryf
My Graad 1-kind sukkel om aan te pas
My ADD-kind is traak-my-nie-agtig
Hoe maak ek Engelse flitskaarte vir my Graad 3-kind?
Wiskunde gee my hoofpyn
Hoe assesseer ek 'n kind met "selective mutism?"
My kind in Graad 4 is disleksies en sukkel met lees en spel
My kind werk baie stadig
Hoe moet my ADD-kind leervakke leer?
Hoe leer lees kinders deesdae in Graad 1?
My kind is gespanne tydens toetse en maak onnodig foute 

 

Ek werk vanjaar van die huis af en het 2 kinders op laerskool, een in Graad 1 en ander Graad 3. Hulle albei is in die naskool tot 17h00. Huiswerk word goed by naskool gedoen, maar ek wil ook deel daarvan wees. My tyd is maar baie beperk. Met my eerste het ek altyd probeer om een middag vroeg tuis te kom om saam huiswerk te doen. Wat se raad het jul vir my? Hoe kan ek dit als inpas, veral hardoplees oefening? Die kinders is te moeg saans en dit gaan te dol met kos maak en die babatjie in die aand.

Ek verstaan heeltemal dat jy voel is nie genoeg betrokke by jou kinders nie. Die hele kwessie van balanseer werk en huis, kan in ‘n groot debakel ontaard.
 
In die eerste plek wil ek vir jou sê dat jy moet ophou skuldig voel. Onthou, al voel dit soms so – jy is nie superwomen nie. Jy het net soveel tyd in ‘n dag en jy kan regtig net soveel doen.
 
Kinders is slimmer wat ons dink. Ja, dis is belangrik dat ons soveel as moontlik tyd saam met hulle spandeer, maar weet jy, die feit dat jy lief is vir hulle, dat hulle veilig en geborge voel, is baie belangriker as tyd.
 
Jy weet mos nou die kinders se huiswerk word goed by die nasorg gedoen. Vergeet jy nou verder daarvan. Spandeer eerder die tyd wat jy saans saam met jou kinders het op iets prettigs wat vir hulle en vir jou lekker is. En jy kan mos sommer so tussenin naweke saam met hulle op die bed gaan lê en vra dat elkeen vir jou lees sodat jy “kan slaap”. Dan hoor jy hoe hulle lees en hulle voel baie geëerd om iets vir Mamma te doen.
 
Onthou daar is baie dinge wat julle saam kan doen wat net so opvoedkundig soos skoolwerk is! Probeer dit bietjie vir ‘n week of twee en jy sal agterkom almal is meer ontspanne, hulle is opgewonde om jou by die huis te hê en daar is geen agterstande wat skoolwerk betref nie.
 
Betrek hulle saans by die kosmakery – dit is maar ‘n gemors, maar hoe meer hulle jou help, hoe meer leer hulle om dit te doen en kort voor lank stuur jy sommer vir hulle om kos te maak! Laat hulle jou help met die baba. Vat sommer een aand af – julle kan brood en eiers eet – en gaan speel tot donker saam met hulle buite of haal ‘n bordspeletjie uit. Laat jou kinders oor twintig jaar terugdink aan hoe lekker dit was as Mamma saans by die huis kom – aan die prettige dinge wat julle saam gedoen het.



My seuntjie is nou 2 jaar en 6 maande, ek het hom altyd bedags by die bediende gelos… - ek het besluit om hom hierdie jaar by ‘n speelgroepie in te skryf, om meer sosiaal te wees, met maatjies te speel en dingetjies te doen, en die grootste is om meer te leer praat, hy sê al woordjies maar nie sinne nie, dinge gaan baie moeilik, hy huil elke oggend vandat hy wakker word tot by die skooltjie, en slaap baie onrustig huil in sy slaap of soek vir “ma - pa” . Ma kom ook elke oggend met rooi gehuilde oë by die werk aan!
Gaan dit beter raak? Gebeur daar dalk dinge by die skool dat hy so onrustig slaap? Ek is regtig al moedeloos, en al gewonder of ek hom nie dalk maar moet uithaal nie.

Ek dink dit gaan vir hom baie goed wees om by die speelgroepie in te skakel – veral vir sy spraakontwikkeling.
 
Ek wil in die eerste plek vir jou sê dat dit definitief gaan beter raak. Maar onthou ook jou kind het sy eie temprament en sommige kinders is net meer ma-vas as ander. Dit vat maar ‘n rukkie vir hom om gewoond te raak aan die nuwe roetine en nuwe opset.
 
Hoe jy in die hele situasie optree, gaan bepaal hoe hy optree. Kinders reageer baie keer op hoe Mamma of Pappa reageer! Praat positief oor die speelgroepie. Vertel heeltyd vir hom hoe lekker dit daar is. Wees opgewonde oor al die maatjies. Jy moet sorg dat jyself goed voel oor die speelgroepie.
 
Wees vrolik en opgewonde as jy hom daar gaan aflaai. Sê vir hom jy kon haal hom weer vanmiddag en dat jy so trots op hom is dat hy so groot is om daar te bly. Dan laai jy hom uit en vat hom in. Jyself mag nie een enkele oomblik lyk of jy twyfel dat hy daar moet wees nie. Onthou, hy lees jou en reageer daarop. Gee hom bloot af vir die personeel, draai om stap onmiddellik weg. Moenie betrokke raak in ‘n hartverskeurende toneel nie. As hy aan jou klou, maak jy sonder emosie sy arms los, gee hom vir hulle en draai om. Loop met weg met ‘n selfversekerde stappie en moenie omkyk of stop nie. Loop tot by jou kar. Jy mag onder geen omstandighede omdraai nie.
 
Ek kan jou verseker dat hy hoogswaarskynlik net vir ‘n paar minute gaan huil en dan gaan begin speel. Hulle het jou telefoonnommer en sal jou bel as daar enige probleme is – ook as hy heeldag om huil.
 
Sorg dat jy vanmiddag opgewonde is oor hom as jy hom kom haal. As hy vir jou iets wil wys, soos ‘n prentjie of blokkies waarmee hulle gespeel het, gaan kyk dadelik en stel baie belang. Vertel weereens vir hom hoe groot hy is en hoe trots jy op hom is.
 
Ek dink nie jy moet hom uithaal nie. Dit kan ‘n hele paar weke vat voor hy gewoond is aan die opset. Druk deur – dit is regtig op die ou einde die beste vir hom. Moenie toelaat dat hy jou emosioneel manipuleer nie.



My dogtertjie is in Gr 2 en ek sukkel om haar te leer om sagter te druk met haar potlood. Sy is ook geneig om baie uit te vee en ek wens ek kan die uitveër laat verdwyn. Ons het nou begin om met ‘n 2H potlood te werk maar ek sien as sy moeg raak dan druk sy nog harder en wanneer sy uitvee dan lyk haar werk verskriklik, ‘n drukpotlood werk ook nie regtig nie want sy druk kort-kort die punt stukkend.

In Graad 2 is die kinders regtig nog te klein om met ‘n drukpotlood te skryf. Jou kind moet leer om nie te hard te druk nie.

Maak seker jou kind het sterk genoeg spiere in haar bo-arms en skouers. Dis vir hierdie rede dat jungle gyms so goed is! Sy moet sommer lekker hang en werk aan haar bolyf se spiertjies. Of laat sy soos ‘n diertjie op die grond hardloop (handeviervoet). Wat gebeur as haar spiere nie sterk genoeg is nie, is dat sy kompenseer vir hierdie swakker, moeë spiere deur harder met haar potlood te druk.

Nog ‘n oorsaak kan wees dat haar vingertjies nie wil saamwerk nie. Maak haar hande sterk deurdat sy met ‘n “stressball” in haar hande speel. Jy kan haar ook met klei laat werk of laat haar papiere frommel. Laat sy oefen tot sy ‘n A4 papier met haar een hand kan opfrommel.

Maak haar bewus van haar vingerpunte en hoe hard sy met hulle druk. Blinddoek haar en laat sy voel watter voorwerp jy vir haar gee. Laat sy op jou rug met haar haar vingers skryf, maar vra haar om so saggies as moontlik te skryf, maar tog so dat jy kan voel – hier kan julle tog te lekker speel!

Laat sy met Lego-blokkies speel of nog beter, laat sy kraletjie-werk doen (laat sy halssnoere of sleutelhouertjies maak.)

Dis belangrik dat sy hierdie goedjies gereeld doen – dit hoef nie soos huiswerk te voel nie, maak ‘n prettige speletjie daarvan en doen dit sommer Saterdagmiddae wanneer sy verveeld is!

Dis belangrik dat jy haar leer om netjies te werk eerder as om mooi te skryf. Dit beteken dat sy eenvoudige dingetjies moet doen, soos om ‘n netjiese lyn met ‘n liniaal te trek en nie onnodig moet uitvee nie. Verder moet sy eerder vinnig en effektief kan skryf – onthou van Gr 4 af moet hulle toetse en eksamens skryf sonder dat sy moeg raak of nie klaar kry nie.



My seuntjie is nou in Gr 1 en sukkel om aan te pas. Elke oggend as ek hom by die skool aflaai, huil hy en smeek my om om vroeg te kom haal. Op die stadium weet ek nie meer hoe om die situasie te hanteer. Ek probeer elke dag mooi praat en gee aandag so veel moontlik. Jy is die enigste kind en is baie stil kind.

Jou kind gaan nou eers vir 2 weke skool. Dit vat vir hulle ten minste ‘n maand om aan te pas – en ek sal selfs sê as dit ‘n kwartaal vat hoef jy nog nie bekommerd te wees nie.
 
Dis wonderlik dat jy mooi met hom praat en aandag gee – hy het dit op hierdie stadium baie nodig. Maak seker dat jy altyd positief praat oor die skool en hom gereeld vertel hoe trots jy op hom is dat hy so mooi skooltoe gaan. Hy is Mamma se grootseun en jy kan nie glo dat hy so groot is om heeldag alleen by die skool te bly nie!
 
Probeer uitvind wat hy wil hê moet verander by die skool sodat dit hom kan lekker wees. Dis gewoonlik maar ‘n kwessie van hy het nie ‘n maatjie nie. Stap saam met hom een oggend tot by sy klas en vra jy sommer daar vir ‘n seuntjie wat daar rondstaan of hy asb bietjie by Boetie sal staan tot die klok lui.
 
Verder sal jy maar moet sterk wees vir jou kind se onthalwe. Geniet die laaste paar rukke waar jy die belangrikste mens in sy lewe is... een van die dae hoor jy dat Juffrou sy held is!



My seuntjie is 11 jaar oud en is ADD. Hy het glad nie 'n sosiale probleem nie, inteendeel kom hy baie goed klaar met maatjies en is boonop altyd die een wat die skaam kinders betrek. My probleem is dat hy traak-my-nie-agtig is met sy skoolwerkies. Hy vergeet baie gou en is onverantwoordelik met sy skoolwerk, alhoewel hy baie goeie punte behaal is dit vir my baie frustrerend. Die "traak my nie" houding trek deur na sy persoonlike self soos die verantwoordelikheid om in die oggende sy hare te kam en tande te borsel. Dinge wat eintlik al 'n tweede natuur by hom moet wees.

Soos jy sê het jou kind 'n bepaalde tipe persoonlikheid en sy eie manier van dinge doen. Moenie dat sy houding jou ontstel nie. Gaan met hom 'n ooreenkoms aan dat hy soveel traak-my-nie-agtig kan wees soos wat hy wil, solank hy sekere dinge doen.

En dan gee jy vir hom 'n lysie. Wees baie spesifiek - om voorsiening te maak vir ADD ook. Maak 'n lysie met plek vir elke dag waar hy kan afmerk wat hy afgehandel het. Daar moet 'n maksimum van 10 goed op die lysie wees en dit hoef vir altyd dieselfde te bly nie, maar omdat hy ADD is, sal ek voorstel dat jy dit vir 'n paar weke dieselfde hou. Items kan bv wees:
Soggens:
1. Tande geborsel
2. Hare gekam
Middae:
3. Huiswerkboek op Mamma se tafel
4. Omsendbriewe op Mamma se tafel
5. Boeke waarin ek moet huiswerk doen uitgepak op 'n netjiese hopie
6. Skryfbehoeftes gereed
Na tuiswerk:
7. Tas gepak met môre se boeke
8. Sportklere gepak

Pas dit aan vir julle behoeftes. Hy moet dan afmerk wat hy klaar afgehandel het. Kom ook ooreen wat die gevolge is as iets gedoen of nie gedoen is nie. Ek is 'n groot voorstander van beloning, so dalk kan jy vir hom sê as hy dit kan regkry om 'n hele week elke dag al die goed af te handel, kan hy die naweek iets lekkers kry of gaan doen.



My seun is nou in Graad 3.  Om hom met sy Engelse woorde te help, wil ek graag vir hom "flash cards" maak met die woorde wat hulle moet leer.  Moet ek net die woord plak of moet ek 'n prentjie by plak?

In Graad 3 is daar ‘n hele klomp woorde wat hulle moet kan lees, maar ook ‘n klomp wat hulle moet kan skryf (spelling). Hoe meer sintuie jy betrek by die leerproses, hoe beter.

Ek dink dis ‘n baie goeie idee om die flitskaarte te maak met ‘n prentjie, maar laat hy eerder die prentjies vir jou teken. Vat die woorde so een-vir-een (werk met so 2 of 3 op ‘n dag) klaar gedruk op die flitskaarte. Nou lees jy vir hom die woord en laat hy dit vir jou teruglees. Gee vir hom die flitskaartjie en laat hy ‘n prentjie by teken om die woord te illustreer. Moedig hom aan om kleur te gebruik en kreatief te wees. Dit maak nie saak of hy kan mooi teken nie – dit gaan nie daaroor nie. Dit gaan oor sy brein wat ‘n konneksie maak tussen die woord en die prentjie.

Hy kan selfs die letters van die flitskaart-woordjie met verskillende kleure “highlighters” oormaak sodat dit helder is. Nou flits jy weer vir hom die woordjie. As hy dit ken, kan jy nog ‘n woordjie op dieselfde manier bysit. En so gaan julle aan tot hy sy woordjies ken.

Vir die spelling moet jy hom sommer op enige manier die woord laat skryf. Laat hy dit met ‘n potlood gewoon skryf, en dan met ‘n koki op ‘n groot vel papier. As julle ‘n swartbord het, laat hy dit daar ook skryf. Gee vir hom water en laat hy die woorde op die stoep verf. Julle kan selfs dit in die tuin in die sand gaan skryf. Ek laat my kinders die woorde ook klank (sodat hulle dit kan hoor) en soms met moeilike woorde laat ek hulle die woorde “spel” deur die letters een vir een met hulle lyfies na te boots.



Wiskunde werk op my senuwees. Dit voel vir my of nuwe werk bloot aan die kind bekendgestel word en daar geen herhaling en inprenting plaasvind nie! Ek het gesukkel met wiskunde op skool en wil graag my seuns daarvan spaar. Ek voel net as die grondslag nie reg gelê is nie dan is dit neusie verby!
Die groot ding van Wiskunde is dat jy nooit ooit iets negatiefs daarvan mag sê of toelaat dat een van jou seuns dit sê nie. Wiskunde is maklik, dis pret en jou kinders kan dit doen. Punt. Jy mag nooit vir hulle vertel jy het gesukkel met Wiskunde nie. Wat hulle betref is die Wiskunde-gene in hulle bloed en dit kan nie anders nie, hulle moet goed doen! Onthou in elk geval die rekenkunde wat hulle op laerskool doen is ver verwyderd van "regte" Wiskunde op Hoërskool. Moedig hulle heeltyd aan en vertel hoe goed hulle gaan doen in Wiskunde.



Hoe assesseer ek 'n Graad 1-seun met "selective mutism"? Skryfwerk en tekeninge is kleurvol en het 'n stewige sterk
handskrif. Lees, klanke, luister en praat moet geassesseer word.

Ek dink die belangrikste is dat jy na alternatiewe metodes van assessering moet kyk. Na iets waarmee hierdie seun gemaklik is. Praat hy by die huis? Indien wel, kan jy met hom en sy ma reël dat hulle sy lees opneem en vir jou bring (mens kan dit met 'n ou bandspelertjie doen, of maklik met 'n rekenaar en 'n mikrofoon en deesdae ewe maklik met enige selfoon!). Ek weet nou nie hoe gemaklik die seun al is nie en of hy glad nie met enigiemand in die klas praat nie, maar ek het al gehoor dat onderwysers met hulle rug na die kind toe staan en as hy wil, dan kan hy lees, praat of antwoorde gee. Jy kan ook werk met flitskaarte wat hy ophou ipv praat. Dan kan jy ook probeer met "ja" en "nee" tekens waar jy die vraag vra en hy moet aandui of jy reg of verkeerd is (bv. "Tel ek reg:
0,1,2,3,5,4,7,8,9,10? Vat aan jou oor as ek reg is of steek jou hand op as ek verkeerd is.").


Het jy enige raad vir my Graad 4-kind wat sukkel met lees en spel?  Sy is disleksies.

Die beste raad wat ek jou kan gee, is om soveel as moontlik sintuie by die leerproses te betrek: laat sy letters bou met klei of pypskoonmakers of met ‘n kwas en water haar spelwoorde uitverf op die stoep. En dan is herhaling natuurlik ook baie belangrik.
 
Jy moet jou kind kry om ‘n “foto” in haar brein te neem van die sigwoorde en spelwoorde. Maak flitskaarte en flits dit vir haar.  Wat ook werk, is as jy die woorde uitdruk en sy kleur dit in – trek bv ‘n raampie om elke woord en maak sekere lettertjies se binnekante sekere kleure, ens. Die beste is om te begin met 2 woorde op ‘n slag en deur die lys te werk. Die klanke, wat ander kinders in Gr 2 en 3 baasraak, is dikwels nog vir ‘n kind in Gr 4 – 6 ‘n probleem.  As sy wonder watter klank om te skryf, kan jy haar help, deur te sê: “eeu, soos in leeu.” Sy gaan dan terug na die “foto'” in haar brein en weet watter klank om te skryf.
Die plakkate van bd en bed kan jy klein uitdruk en sommer in haar potloodblikkie plak. Jou kind mag glad nie speltoets skryf sonder dat sy haar bd plakkaat by haar het nie – lig die onderwyser daarvan in.


My kind is nou in Graad 4 sy kom nie by al haar werk uit nie. Al die onderwysers sê sy is te stadig. Ons sit in die aande tot 9:30 om deur haar werk te kom. As ek raas, huil sy en dan kry ek niks uit haar nie.

Jy moet probeer uitvind hoekom sy stadig is. Word haar aandag maklik afgetrek? Dagdroom sy? Sukkel sy om te konsentreer? Skryf sy stadig? Lees sy stadig? Is sy ongemotiveerd? As jy weet wat die oorsaak is, kan jy begin om dit aan te spreek.
 
Oor die tuiswerk: besluit jy wat die belangrikste is. Sy gaan net al hoe stadiger werk as sy heeldag moet werk en nooit kan speel nie! Maak die tuiswerk lekkerder. As sy spelwoorde moet oefen, laat sy dit op die muur skryf. As jy ‘n glasdeur het, laat sy met ‘n whiteboard marker dit sommer daarop skryf. Dit vee mooi skoon af na die tyd. Breek haar werk af in kleiner deeltjies – sê bv sy het 5 somme om te doen, en jy gaan haar tydhou. Sy moet kyk of sy dit binne tien minute kan klaar kry. En as sy dit regkry, dan beloon jy haar met ‘n sticker voor die kop (hulle maak of hulle nie daarvan hou nie, maar hulle is mal oor stickers op die voorkop!). Sy kan vanaand by Pappa of Ouma spog oor al haar stickers.
 
As jy regtig nie meer raad het nie, oorweeg dit om haar te laat evalueer by ‘n arbeidsterapeut. Die sal vir jou presies kan sê wat fout is en jy sal dan van daar af die probleem kan hanteer.


Hoe kan ek my ADD-kind help om leervakke te leer?

Wanneer dit kom by leervakke is dit belangrik dat die werk nie te maklik of moeilik moet wees nie. As dit heeltemal onbekende inhoud is, help jou kind deur vir hom te verduidelik waar dit inskakel by kennis wat hy reeds het.
 
Help jou kind om sleutelwoorde te identifiseer wat belangrik is om die werk te leer. Gebruik highlighters om een of twee sleutelwoorde vir elke feit uit te lig.
 
Breek werk in kleiner deeltjies op. Jy sal bv nie dat hy ‘n hele hoofstuk op ‘n slag hoef te leer nie, maar net een afdeling.
 
Moedig jou kind aan om te fokus deur beloning en aanprysing. As hy 5 punte kan memoriseer en opnoem, prys hom daarvoor.
 
Sorg vir genoeg pouses tussen leerwerk. As jou kind die 5 punte kan opnoem, laat hom toe om vir 5 minute iets anders te doen. ‘n Laerskoolkind met ADD behoort nie meer as 10 tot maksimum 15 minute op ‘n slag te studeer nie.
Span die rekenaar in! Maak flitskaarte in Powerpoint met die sleutelwoorde (of laat Boetie dit sommer maak nadat hy dit gememoriseer het), gebruik kleur en leer so!
 
Skaf ‘n wekkertjie aan of ‘n kombuishorlosie sodat hy kan sien hy moet vir 10 minute konsentreer.
 
Gebruik soveel moontlik sintuie in die leerproses. Laat hy skryf (op verskillende oppervlaktes), praat, luister, sing en dans! Hoe meer opwindend met groot verskeidenheid, hoe beter!
 
Sorg dat julle ‘n voorspelbare metode het. Bv: Boetie moet eers die gedeelte (wat jy afgebreek het tot ‘n kleiner eenheid) deurlees met aandag. Dan help jy hom om die sleutelwoorde van elke feit te highlight. Hierna skryf hy die sleutelwoorde (maak dit opwindend: laat hom op ‘n groot vel papier of teen die glasdeur skryf). Nou moet hy die sleutelwoorde vir jou lees en by elke sleutelwoord ‘n aksie doen om dit te illustreer. Hierna moet hy weer die sleutelwoorde noem, maar hy mag nie kyk op sy papier nie. In die laaste plek skryf hy die sleutelwoorde neer en verduidelik elke punt aan jou.



Moet die Graad 1's lees voordat hulle kan klank?  Met ander woorde hulle memoriseer die woorde en lees op die manier. Kan dit nie verstaan nie want hoe kan 'n kind lees sonder dat hy/sy die klinkers ken nie.

Daar is verskeie maniere waarop kinders leer lees. Die een manier is om vir hulle die klanke eerste te leer en dat hulle dan woorde leer klank (dis die manier waarop ons hoofsaaklik leer lees het). ‘n Ander manier is om woorde op sigwaarde te leer lees – welliswaar betekenisloos aan die begin – en deur woordherkenning te leer lees. Die metode wat tans in ons skole gebruik word, is ‘n kombinasie van die twee. Die kinders leer woorde lees, Maar terselfdertyd leer hulle ook klanke. Die twee loop eintlik hand aan hand, maar ons sien dit as twee aparte “vakke”. Hulle het lees (gewoonlik met ‘n leesboekie) en klanke. In Klanke leer hulle die verskillende klanke, hulle bou woorde en leer spel.
 
Daar is oor die jare internasionaal baie navorsing hieroor gedoen. Dit is die beste manier om te leer lees. Dis vir ons moeilik om dit te verstaan, want ons het nie so geleer nie. Die eerste kwartaal “lees” hulle bloot deur die woordjie te memoriseer. Hulle “lees” soms hele boekies so.
 
Kinders leer 5 dinge in lees:
  • hulle word bewus van die klanke (hoe dit klink, wat rym, lettergrepe – klap die woord en weglaat van klanke – bv handsak sonder “hand” is ...
  • klanke: kinders leer die woorde en simbole van klanke. In die eerste helfde van Gr 1 leer kinders ongeveer 2 nuwe klanke per week. Klank word aangeleer saam met lees. Kinders leer ook klanke skryf en spelwoorde word ook behandel uit die klanke uit.
  • woordherkenning: sigwoorde is woorde wat herhaaldelik voorkom en gebruik word. Kinders leer hierdie woorde op sigwaarde, m.a.w as hulle die woordjie sien, moet hulle dit dadelik herken. Die woorde waarna jy verwys is almal sigwoorde en die kinders moet hulle kan lees.
  • begrip: die onderwyser sal die prente en teks met die kinders bespreek. Onthou dat prente deel uitmaak van lees.
  • vlotheid: dit gaan oor akkuraatheid, spoed en frasering
 


My seun is in graad 5, is ADD en op Ritalin. Hy raak egter op sy senuwees in die klasse, veral as hy toets moet skryf, dan maak hy onnodige foute wat hom baie punte kos. By die huis ken hy egter alles en as ek hom vra dan het hy alles reg.
Dieselfde toets sal ek vir hom gee by die huis, dan het hy alles reg.  Wat kan ek doen om hom rustig te maak in die klas sodat hy nie onnodig punte verloor en kwaad is vir homself agterna nie?

In die eerste plek moet jy probeer uitvind wat hom spesifiek in die klas senuagtig maak en dit aanspreek. Daar kan verskeie dinge wees.
 
- Hy kan voel hy is bang hy stel jou teleur.
- Dalk is hy bang hy stel homself te teleur.
- Dit kan wees dat hy bang is vir gevolge (straf) as hy swak presteer.
- Hy kan voel hy presteer swakker as sy maats en is bang om “dom” genoem te word.
- Sy doelwitte kan te hoog en onbereikbaar wees.
- Hy is bang daar is te min tyd en jaag deur die vraestel.
 

Van die volgende kan help:
  • Verseker jou kind te alle tye van jou liefde en prys hom vir elke punt. Hy moet weet hy is nie net vir jou aanvaarbaar as hy 80% kry nie, maar selfs as hy alles verkeerd het!
  • Beplan en studeer betyds. Dit kan hom meer senuagtig maak as hy ‘n dag voor die tyd begin leer.
  • Sorg dat hy die aand voor die tyd genoeg slaap.
  • Stel realistiese doelwitte. Dalk kan hy 80% kry vir die toets, maar kom ons mik nou vir hierdie toets vir 50%. As hy dan 50% kry, prys hom daarvoor. Vir die volgende toets stoot ons die doelwitte op na 60%, ens. Hy het nodig om sukses te beleef sodat sy selfvertroue kan verbeter.
  • Leer hom hoe om sy tyd te beplan. Hy moet kan uitwerk hoeveel tyd het hy vir elke vraag. Leer hom ‘n gestruktureerde manier aan om ‘n vraag te beantwoord, bv: lees die vraag deur, lees dit weer deur. Omkring die sleutelwoord. Kyk na die hoeveelheid punte. Beantwoord nou die vraag. Kyk weer na die sleutelwoorde. Herevalueer jou antwoord.
  • As hy voel hy raak gespanne, leer hom tegnieke aan om te ontspan terwyl hy toets skryf, bv: laat hy diep asemhaal. Laat hy sy vingers beweeg en sy skouers terugrol, ens.
  • Moedig hom aan om positief te praat. “Ek gaan goed doen in die toets.” “Ek is niks bang nie.” “Ek het hard geleer.” “Ek is slim”.
  • Gaan praat met die onderwyser en lig haar in van jou kind se probleem van senuagtigheid tydens toetse.